Louis Braille | |
---|---|
’n Borsbeeld van Louis Braille deur Étienne Leroux, Bibliothèque Nationale de France. | |
Gebore | Coupvray, Frankryk | 4 Januarie 1809
Sterf | 6 Januarie 1852 (op 43) Parys, Frankryk |
Nasionaliteit | Frans |
Beroep | Opvoeder en uitvinder |
Ouer(s) | Monique and Simon-René Braille |
Louis Braille (4 Januarie 1809 – 6 Januarie 1852) was ’n Franse opvoeder en die uitvinder van ’n lees-en-skryfstelsel vir gesiggestremdes. Sy stelsel het wêreldwyd bekend geword as braille.
Braille het in albei oë blind geword ná ’n ongeluk in sy kinderdae. Hy het uitgeblink in sy opvoeding en ’n beurs gekry van die Franse Instituut vir die Blinde Jeug. Terwyl hy nog ’n student daar was, het hy ’n kodestelsel ontwikkel wat blinde mense in staat gestel het om vinnig en doeltreffend te lees en skryf. Hy het sy stelsel in 1824 vir die eerste keer voorgelê.
As volwassene was Braille ’n professor aan die instituut en ook ’n musikant, maar hy het die grootste deel van sy latere lewe daaraan gewy om sy stelsel uit te brei en te verbeter. Dit is min gebruik tot ’n paar jaar ná sy dood, maar later is braille herken as ’n rewolusionêre uitvindsel, en dit is by tale oor die wêreld heen aangepas.