Lucianus van Samosata

Lucianus
Spekulatiewe portret deur William Faithorne
Geboreomstreeks 125 n.C.
Samosata, Syria
SterfNá 180 n.C.
waarskynlik Egipte, Romeinse Ryk
BeroepSkrywer, satirikus, retorikus
Noemenswaardige werke
    • 'n Ware verhaal
    • Dialoë van die Dooies
    • Liefhebber van Leuens
    • Dialoë van die gode
    • Dialoë van die Courtesans
    • Alexander die valse profeet
    • Filosofieë te koop

Lucianus van Samosata[lower-alpha 1] (Λουκιανὸς ὁ Σαμοσατεύς, omstreeks 125 – ná 180) was 'n ge-helleniseerde Siriese satirikus en retorikus wat veral bekend is vir sy karakteristieke tong-in-die-kies styl waarmee hy gereeld die gek geskeer het met bygelowigheid, godsdienstige gebruike en geloof in die bonatuurlike. Alhoewel sy moedertaal waarskynlik Siries was, is sy werke wat na ons oorgelewer is byna geheel en al in Oudgrieks (meestal in die Attiese dialek wat gewild was gedurende die Tweede Sofistiese tydperk).

Alles wat bekend is oor Lucianus se lewe kom uit sy eie skryfwerk,[1] wat dikwels moeilik is om te interpreteer as gevolg van sy gebruik van sarkasme. Volgens sy Die Droom was hy deel van 'n gesin uit die laer middelklas in Samosata, geleë langs die oewer van die Eufraat in die afgeleë Romeinse provinsie van Syria. As jong man was hy werksaam as vakleerling by sy oom om beeldhouer te word, maar na 'n mislukte poging tot beeldhouwerk het hy weggehardloop om opleiding in Ionië te ontvang. Hy het waarskynlik 'n reisende dosent geword en universiteite reg deur die Romeinse Ryk besoek. Nadat hy danksy sy lesings roem en rykdom verwerf het, het Lucianus hom uiteindelik vir 'n dekade in Athene gevestig, waartydens hy die meeste van sy bestaande werke geskryf het. In sy vyftigs is hy moontlik aangestel as 'n hoogs betaalde staatsamptenaar in Egipte, waarna hy uit die historiese rekord verdwyn.

Lucianus se werke was baie gewild in die oudheid, en meer as tagtig geskrifte wat aan hom toegeskryf is bestaan vandag nog, 'n aansienlik groter hoeveelheid as vir die meeste ander klassieke skrywers. Sy bekendste werk is 'n Ware verhaal, 'n spitsvondige satire teen skrywers wat ongelooflike verhale vertel. Dit word deur sommige as die vroegste bekende wetenskapsfiksiewerk beskou. Lucianus het die genre komiese dialoog uitgevind, 'n parodie op die tradisionele Sokratiese dialoog. Sy dialoog Liefhebber van leuens dryf die spot met mense wat in die bonatuurlike glo en bevat die oudste bekende weergawe van "Die towenaarsleerling". Lucianus het talle satires geskryf wat die spot dryf met tradisionele verhale oor die gode, insluitend Dialoë van die gode, Icaromenippus, Zeus ontplof, Zeus gekatkiseer en Die parlement van die gode. Sy Dialoë van die dooies fokus op die Siniese filosowe Diogenes en Menippus. Filosofieë te koop dryf die spot met verskeie filosofiese skole en Die vissermanne óf Die dooies rys weer op is 'n verdediging van hierdie bespotting.

Lucianus het dikwels openbare figure bespot, soos die Siniese filosoof Peregrinus Proteus in sy brief Die heengaan van Peregrinus en die bedrieglike orakel Alexander van Abonoteichus in sy Alexander die valse profeet. Lucianus se verhandeling, Oor die Siriese godin, satiriseer kulturele onderskeidings tussen Grieke en Siriërs en is die hoofbron van inligting oor die kultus van Atargatis.

Lucianus het 'n enorme impak op Westerse letterkunde gehad. Werke wat geïnspireer is deur sy werke sluit in Thomas More se Utopia, die werke van François Rabelais, William Shakespeare se Timon van Athene en Jonathan Swift se Gulliver's Travels.


Verwysingfout: <ref> tags exist for a group named "lower-alpha", but no corresponding <references group="lower-alpha"/> tag was found

  1. Matthews, John (23 Februarie 2021). Empire of the Romans: From Julius Caesar to Justinian: Six Hundred Years of Peace and War, Volume II: Select Anthology (in Engels). John Wiley & Sons. ISBN 978-1-4443-3458-6.

From Wikipedia, the free encyclopedia · View on Wikipedia

Developed by Nelliwinne