Lucius Cornelius Scipio (gebore in omstreeks 300 v.C.), konsul in 259 v.C. gedurende die Eerste Puniese Oorlog, was 'n konsul en Romeinse sensor van Antieke Rome. Hy was die seun van Lucius Cornelius Scipio Barbatus, wat self 'n konsul en sensor was, sowel as die broer van Gnaeus Cornelius Scipio Asina, wat twee keer konsul was. Twee van sy seuns (Publius Cornelius Scipio en Gnaeus Cornelius Scipio Calvus) en drie van sy kleinseuns (Scipio Africanus, Scipio Asiaticus en Scipio Nasica) het ook konsuls geword, en was almal beroemde generaals. Tussen die vyf mans was die bekendste een Scipio Africanus.
As konsul in 259 v.C. het hy die Romeinse vloot gelei tydens die verowering van Aleria en toe Korsika, maar gefaal teen Olbia in Sardinië. In die Fasti Triumphales is opgeteken dat die Romeinse triomf aan hom toegeken is, maar twee ander inskrywings van sy loopbaan maak nie melding daarvan nie. Die volgende jaar is hy verkies as Romeinse sensor, saam met Gaius Duilius. Hy is opgevolg deur Gaius Sulpicius Paterculus as tweede konsul.[1]
Hy het later 'n tempel (wat naby die Porta Capena geleë was) opgedra aan die Tempestates.