Lughawe Londen-Heathrow | |||
---|---|---|---|
IATA: LHR – ICAO: EGLL | |||
Opsomming | |||
Tipe lughawe | Openbaar | ||
Eienaar | Heathrow Airport Holdings | ||
Operateur | Heathrow Airport Limited | ||
Bedien | Londen, Verenigde Koninkryk | ||
Ligging | Londense voorstad Hillingdon | ||
Spil vir | British Airways | ||
Hoogte bo seevlak | 83 vt / 25,3 m | ||
Koördinate | 51°28′39″N 0°27′41″W / 51.47750°N 0.46139°W | ||
Webtuiste | |||
Landkaart | |||
Ligging in Groter Londen en Engeland (insetsel) | |||
Aanloopbane | |||
Rigting | Lengte | Oppervlak | |
m | vt | ||
09L/27R | 3 900 | Gekeepte teer | |
09R/27L | 3 660 | Gekeepte teer | |
Statistieke (2020 weens Covid-19) | |||
Passasiers | 22 109 550 | ||
Lugbewegings | 207 070 | ||
Ekonomiese impak | VS$ 16,2 miljard[1] | ||
Sosiale impak | 216 700[1] | ||
Bronne: VK lugvaartpublikasie by NATS en Eurocontrol Statistiek van die VK Burgerlugvaartowerheid. |
Die Lughawe Londen-Heathrow of kortweg net Heathrow (IATA-kode: LHR, ICAO: EGLL) is 'n reuse internasionale lughawe wat Londen, die Britse hoofstad bedien. Die lughawe, wat tussen 1946 en 1965 as London Airport bekend gestaan het, is in die Wes-Londense "Borough of Hillingdon", sowat 32 km of 20 myl wes van Sentraal-Londen, geleë en word as een van die modernstes ter wêreld beskou.[2]
Heathrow is die besigste lughawe in die Verenigde Koninkryk en Europa, en dit was in 2012 ook op twee na die besigste ter wêreld volgens die getal passasiers wat bedien is. Met 69,9 miljoen het dit meer passasiers hanteer as die Lughawe Parys-Charles de Gaulle (61,6 miljoen) en Lughawe Frankfurt in Frankfurt am Main met 57,5 miljoen.[3] Volgens die getal vliegtuie, wat in 2012 gehanteer is, is Heathrow die derde besigste lughawe in Europa ná Charles de Gaulle en Frankfurt am Main. Daagliks kom 190 000 passasiers in Heathrow aan of vertrek van hier. Heathrow hanteer meer internasionale passasiers as enige ander lughawe.[4]
Tans strek die lughawegeriewe oor vyf terminale waarvan elkeen oor winkels, restaurante, geldwisselkantore, inligtingstoonbanke, geriewe vir hotelbesprekings en verlore bagasie beskik. Die jongste toevoeging tot die lughawekompleks is Heathrow-terminaal 5 wat in 2008 geopen is en langafstandvlugte hanteer. Dié terminaal is die grootste vrystaande gebou in die Verenigde Koninkryk en vier keer groter as terminaal 4. Terminaal 2, wat onder meer passasiers van South African Airways gehanteer het, is laat in 2009 ná byna sestig jaar se bedrywighede vir opknappings gesluit en in 2014 heropen.
As Londen se hooflughawe het Heathrow twee vroeëre lughawens, die Northolt lugmagbasis en die Lughawe Londen-Croydon, vervang. Met meer as 76 700 werksgeleenthede op die lughawe self en 'n verdere 140 000 in die onmiddellike omgewing, waar 'n groot aantal wêreldwye maatskappye hul kantore het, vorm Heathrow vandag 'n uitgestrekte besigheidsone wat 'n geskatte 2,7 persent tot Londen se bruto inkomsteskepping bydra.