Luisagtiges is 'n versameling insekte wat verkeerdelik in 'n kunsmatige superorde, Psocia, geplaas was; hierdie klassifikasie het egter verval. Hierdie diere het uiteenlopende lewenswyses. Die boekluise, orde Psocoptera, is insekte wat hoofsaaklik op sellulose, soos blare en papier, maar ook op skimmel en dooie insekte leef.
Die ander luise, wat ektoparasiete (uitwendige parasiete) van diere is, was eers onder die orde Phiraptera geklassifiseer. Vandag word daar twee ordes parasitiese luise onderskei, naamlik die Mallophaga of kouende dierluise en die Anoplura of suigende luise. Die boekluise, klein insekte waarvan sommige spesies vlerke het, word in muwwerige en stowwerige habitatte aangetref en is nie parasities nie.
Die Mallophaga en die Anoplura is egte parasiete en lewe van vere, hare, velskilfers en die bloed van hul gashere, wat meestal voëls en soogdiere is. 'n Evolusionêre verband tussen die Psacoptera en die Mallophaga en Anoplura kan uit die verskillende voedingswyses gesien word.
Daar word vermoed dat die hedendaagse luise afstammelinge is van 'n insek wat waarskynlik 'n soort boekluis was en in voëlneste op skimmels en ander stowwe geleef het. Die noue kontak wat so tussen die insek en die voëls tot stand gekom het, kon dus maklik tot ʼn parasitiese aanpassing van die insekte gelei het.