Keiser van die Bisantynse Ryk | |
---|---|
![]() Embleem van die Palaiologos-dinastie.
| |
Tydperk | 330-1453 n.C. |
Eerste monarg | Konstantyn I |
Laaste monarg | Konstantyn XI Palaiologos |
Titel | Keiser en Outokraat van die Romeine |
Amptelike tuiste | Konstantinopel |
Die Lys van Bisantynse keisers bevat die heersers van die Bisantynse Ryk van die stigting van Konstantinopel in 330 n.C. tot die ryk se verowering deur die Ottomaanse Ryk in 1453. Net die keisers wat as wettige heersers erken is en soewereine mag gehad het, is ingesluit. Valse aanspraakmakers en junior medekeisers is uitgesluit.
Die lyn keisers begin tradisioneel met die Romeinse keiser Konstantyn die Grote, die eerste Christelike keiser, wat die stad Bisantium herbou het as die keiserlike hoofstad, Konstantinopel. Tydens sy bewind het die belangrikste eienskappe van die Bisantynse Ryk begin ontwikkel: ’n Romeinse politieke bestel wat om Konstantinopel gesentreer was en oorheers is deur die Griekse ooste, met die Christendom as die staatsgodsdiens.
Al die Bisantynse keisers het hulself as Romeinse keisers beskou:[1] die term "Bisantynse" is eers in die 16de eeu in die Weste begin gebruik.
Die titel van alle keisers voor Herakleios was amptelik "augustus", hoewel ander titels soos "dominus" ook gebruik is. Hul name is voorafgegaan deur "imperator caesar" en gevolg deur "augustus". Ná Herakleios het die algemene titel die Griekse "basileus" (βασιλεύς) geword. Ná die stigting van die mededingende Romeinse Ryk in Wes-Europa is die titel "autokrator" (αυτοκράτωρ) al hoe meer gebruik. In latere eeue is hulle soms "keiser van die Grieke" genoem deur Westerse Christene, maar hulle het hulself steeds as "Romeinse keisers" beskou. Teen die einde van die ryk se bestaan het hulle na hulself verwys as "[Keiser se naam] in Christus, Keiser en Outokraat van die Romeine".
In die Middeleeue was dinastieë algemeen, maar die beginsel van oorerflike opvolging is nooit in die ryk geformaliseer nie.[2] Dit was ’n praktyk eerder as ’n onveranderlike beginsel.[3]