MIV/vigs in Suid-Afrika is ’n onrusbarende gesondheidskwessie, omrede daar aangevoer word dat meer mense met vigs in Suid-Afrika besmet is as enige ander land ter wêreld.
Die gemiddelde leeftyd wat oor is vanaf die MIV-infeksie tot die dood intree is 10,5 jaar vir mans en 11,5 jaar vir vroue.[1]
Die 2007 UNAIDS-verslag bereken dat 5 700 000 Suid-Afrikaners met MIV/vigs besmet is, altans net onder 12% uit ’n bevolking van 48 miljoen mense.[2]By volwassenes is die koers 18,10%.[3] Die getal geïnfekteerde lyers is in omvang groter as enige ander land ter wêreld. Die ander vyf lande wat bo-aan die ranglys is met die hoogste MIV/vigs voorkoms, is almal buurlande van Suid-Afrika.
In 2007 het slegs 28% van Suid-Afrikaners wat aan MIV/vigs ly teenretrovirale behandeling ondergaan. In 2004, 2005 en 2006 was die syfer onderskeidelik 4%, 15% en 21%.[4] Teen 2009 het bykans 1 miljoen of sowat 2% van alle Suid-Afrikaanse volwassenes teenretrovirale behandeling ontvang, waarvan 38% kinders was.[5]
In 2010 het ongeveer 280 000 Suid-Afrikaners (2010-projektering) aan vigs gesterf. Tussen 42% en 47% van alle sterftes onder Suid-Afrikaners is vigssterftes.[6]
Hoewel die besmettingskoers onder volwassenes in Suid-Afrika steeds hoog bly, toon daar ’n afwaartse neiging onder tienderjariges. Die MIV/vigs-voorkomssyfers onder die 15 tot 19-jarige ouderdomsgroep is in 2005, 2006 en 2007 as onderskeidelik 16%, 14% en 13% opgeteken.[7]