Macadam is ’n soort padverharding wat omstreeks 1820 deur die Skotse ingenieur John McAdam uitgevind is. Gekapte klippe van dieselfde grootte en gewig word in dun lae opmekaar geplaas en daarna saamgepers. Dit kan ook met fyner stof aangevul word.
Volgens McAdam moes geen bindmiddel bo-op die klippe geplaas word nie, omdat die verkeer op die pad sou sorg dat die gebreekte klippe teen die regte hoek verder saamgepers word. Dit sou ’n plat, stewige oppervlak vorm wat die weer en verkeer sou kon weerstaan.[1]
Weens die talle holtes tussen die klippe en die gebrek aan ’n bindmiddel soos teer is spore maklik op ’n macadampad uitgetrap. Klippe het ook opgeskiet en dit het skade veroorsaak aan die paaie self en aan die voertuie wat dit gebruik het. Om hierdie redes word dié soort padverharding deesdae baie selde gebruik.