’n Maskon (Engels: mascon, van mass concentration) is ’n gebied op die Maan waar die swaartekrag onder die oppervlak groter is as in die omliggende gebied. Dié afwykings kom veral by die maria voor, wat deur die impak van planetoïdes veroorsaak is en waar die swaartekrag na verwagting kleiner behoort te wees. ’n Maskon kan tot honderde kilometers diep strek.
Die digtheid in ’n maskon is 3,3 g/cm³, terwyl dit in die omliggende gebied 3 g/cm³ is. Die massa van al die maskons op die Maan maak sowat 0,01 tot 0,03 persent van die Maan se algehele massa uit.
By negatiewe maskons het ’n gebied ’n kleiner swaartekrag as die omliggende gebied.