Die Melkitiese Grieks-Ortodokse Kerk (Arabies:كنيسة الروم الملكيين الكاثوليك, Kanīsat ar-Rūm al-Malakiyyīn al-Kāṯūlīk) is ’n Oosters-Katolieke Kerk in volle gemeenskap met die Rooms-Katolieke Kerk. Aan die hoof daarvan is patriarg Youssef Absi, met sy hoofkwartier in Damaskus, Sirië. Die Melkiete, wat die Bisantynse Rite volg, kan hulle geskiedenis naspeur tot by die vroeë Christene van Antiogië, voorheen in Sirië en tans in Turkye. Hier het Petrus in die 1ste eeu n.C. die Christendom bekendgestel.[1]
Die Melkitiese Kerk is verwant aan die Grieks-Ortodokse Kerk van Antiogië. Dit is hoofsaaklik gesentreer in Sirië, Libanon, Jordanië, Israel en Palestina.[2] Lidmate kom egter oor die hele wêreld voor vanweë migrasie as gevolg van vervolging. Daar is tans wêreldwyd sowat 1,6 miljoen lidmate.[3] Hoewel die Melkitiese Grieks-Katolieke Kerk sy Bisantynse liturgiese tradisies met die kerke van Oosterse Ortodoksie deel, is die kerk amptelik deel van die Rooms-Katolieke Kerk sedert die herbevestiging van sy vereniging met Rome in 1724.[4]