Messerschmitt Me 262

Me 262 Schwalbe
Messerschmitt Me 262 Schwalbe
Tipe Vegter
Vervaardiger Messerschmitt
Ontwerp deur Messerschmitt
Nooiensvlug 18 April 1941 met suierenjin
18 Julie 1942 met straalenjins
Bekendstelling April 1944
Onttrek 1945, Nazi-Duitsland
1951, Tsjeggo-Slowakye
Hoofgebruiker Luftwaffe
Tsjeggo-Slowaakse Lugmag (S-92)
Aantal gebou 1 430

Die Messerschmitt Me 262 Schwalbe ("swael") van Nazi-Duitsland was die wêreld se eerste operasionele straalaangedrewe vegvliegtuig.[1] Ontwerp- en ontwikkelingswerk het reeds voor die Tweede Wêreldoorlog begin, maar enjinprobleme en topvlak-inmenging het die vliegtuig weerhou van operasionele status in die Luftwaffe tot middel-1944. Swaar gewapen, was dit vinniger as enige geallieerde vegter, insluitend die Britse straalaangedrewe Gloster Meteor. As een van die mees gevorderde vliegtuigontwerpe in operasionele gebruik tydens die Tweede Wêreldoorlog, is die Me 262 in verskeie rolle aangewend, insluitend as ligte bomwerper, verkenner, en selfs as eksperimentele nagvegter.

Me 262-vlieëniers beweer dat hulle 'n totaal van 542 Geallieerde vliegtuie vernietig het, alhoewel daar soms groter getalle genoem word. Die Geallieerdes het sy potensiaal in die lug teengewerk deur aanvalle te loods op die vliegtuig op die grond en tydens sy opstyg en landing. Probleme met enjinbetroubaarheid van die baanbreker-Junkers Jumo 004 aksialevloeiturbostralerenjins – die eerste wat ooit in massaproduksie geplaas is – en die sabotasie van Duitse brandstofvoorrade deur geallieerde magte gedurende die verslegtende laat-oorlog het ook die doeltreffendheid van die vliegtuig as 'n vegter verminder. Teen die einde het die Me 262 waarskynlik 'n onbeduidende uitwerking op die verloop van die oorlog gehad. Dit was as gevolg van sy laat beskikbaarstelling en die gevolglike lae aantal wat in operasionele diens geplaas kon word.

Kajuit van die Me 262

Terwyl Duitse gebruik van die vliegtuig beëindig is aan die einde van die Tweede Wêreldoorlog, is 'n klein aantal deur die Tsjeggo-Slowaakse Lugmag bedryf tot in 1951. Gekonfiskeerde Me 262s is bestudeer en in-vlug getoets deur die groot moondhede, en uiteindelik het dit die ontwerp beïnvloed van 'n aantal na-oorlogse vegvliegtuie, soos die Noord-Amerikaanse North American F-86 Sabre en Boeing B-47 Stratojet. 'n Paar van die vliegtuie het oorleef en pryk as statiese uitstallings in museums, en daar is ook 'n paar privaatgeboude vliegtuigreproduksies.

  1. Hecht, Heinrich. The World's First Turbojet Fighter – Messerschmitt Me 262. Atglen, Pennsylvania: Schiffer Publishing, 1990. ISBN 0-88740-234-8.

From Wikipedia, the free encyclopedia · View on Wikipedia

Developed by Nelliwinne