Mieliepap is 'n eg Suid-Afrikaanse gereg wat van growwe mieliemeel en water gemaak word. Afrikaners in die noorde van die land eet dit gewoonlik vir ontbyt saam met melk en suiker, of as bygereg tydens ander etes. Dit is veral gesog as bygereg saam met braaivleis en word met 'n pikante sous soos tamatie en uie (braaismoor), tjakalaka of kaas en sampioene bedien.
Mieliepap word hoofsaaklik deur die inheemse swart bevolking en die Afrikaners genuttig, en nie soseer deur dié van Engelse of Asiatiese afkoms nie.
In die Kaapprovinsies word dit byna uitsluitlik vir ontbyt geëet.
Aangesien mieliemeel redelik goedkoop is, word pap deur behoeftige mense as stapelvoedsel gebruik, en met groente, sous of 'n vetjie genuttig.