Hierdie artikel is 'n weesbladsy. Dit is nie geskakel of in ander bladsye ingesluit nie. Help Wikipedia deur na moontlike teks te soek en 'n skakel hierheen te plaas. |
Die Mississippi-Missouri en die Ohio vorm saam 'n rivierstelsel wat byna twee derdes van die VSA beslaan en op 2 na die grootste ter wêreld is. Die Mississippi word, wat sy lengte betref, deur minstens twaalf ander riviere oortref, maar die Missouri-tak word dikwels as 'n integrerende deel bygereken, en in die verband word dit as die langste rivier ter wêreld beskou.
Dit is ʼn belangrike verbinding tussen die noordelike en suidelike dele van die VSA sowel as met die Golf van Mexiko. Voor die ontwikkeling van spoorweë in die 2e helfte van die 19e eeu, was daar 'n swaar verkeer met landbouprodukte op die Mississippi-Missouri, terwyl die Ohio 'n bedrywige verkeersweg tussen die geïndustrialiseerde noordooste en die landbougebied in die sentrale gedeelte van die land was. Die Ohio vervul vandag nog die funksie.
Aan die begin van die 20e eeu het die riviere weer bedrywig geword, veral met die vervoer van swaar skeepsladings, terwyl die ontdekking van aardolie, aardgas en ander minerale 'n ekonomiese oplewing gebring het in die stede langs die rivier.
Oorstromings in die Mississippi-Missouri het vroeër baie skade aangerig en lewens geëis, maar is mettertyd deur onder meer dyke, afvoerkanale en damme in bedwang gebring. Die stroomgebied van die Mississippi-Missouri en die Ohio beslaan byna twee derdes van die VSA en word slegs deur die van die Nyl en die Amasone oortref. Die gebied staan bekend as die Sentrale Bekken en ontwater 31 VSA-state en 2 Kanadese provinsies.
Dit strek oor 'n driehoek wat in die ooste en noordooste deur die Appalachiese Gebergte, en in die noordweste en weste deur die Rotsgebergte gevorm word, met die staat Louisiana in die suide. Die gebied, die Sentrale Bekken, se reliëf is tydens die Ystyd hoofsaaklik deur landys veroorsaak, wat die riviervalleie uitgeskuur en sodoende die Groot Mere gevorm het. Suid van die mere is die land met sediment, wat deur die landys afgevoer is, gelykgemaak, terwyl die vrugbare grond van die New England-state in die noordooste deur pakys meegesleur is.
Vanweë die verskuiwings het die Sentrale Bekken op sekere plekke grondlae wat meer as 100 m dik is. Die Mississippi ontspring in die Itascameer in Noordwes-Minnesota, ongeveer 200 km van die Kanadese grens en nie ver wes van die Groot Mere nie. Dit vloei oor 'n kort afstand ooswaarts, kronkel dan suid en mond 3 779 km verder naby New Orleans in die Golf van Mexiko uit. Die grootste syrivier regs van die Mississippi, die Missouri (3 969 km), ontspring in die Rotsgebergte en vloei van die weste af by St. Louis in die Mississippi.
Die Mississippi word, wat sy lengte betref, deur ruim 12 ander riviere oortref, maar die Missouri word dikwels as 'n integrerende deel daarvan bygereken, en in die verband word dit as die langste rivier ter wêreld beskou. Die tweede grootste tak, die Ohio (1 579 km), ontspring aan die oostekant in die Appalachiese Gebergte