Мосфильм Mosfilm | |
Tipe | Korporasie |
---|---|
Gestig | 30 Januarie 1924 |
Hoofkantoor | Moskou, Russiese Federasie Mosfilmofskaja ul. 1, Metro Kiëfskaja, Moskou 119285 |
Sleutelpersone | Karen Sjachnazarof (voorsitter) |
Industrie | Rolprentbedryf |
Produkte | Rolprente, televisieprogramme, videosnitte |
Werknemers | 1 500 |
Webwerf | Mosfilm |
Mosfilm (Russies: Мосфильм, [məsˈfʲɨlʲm]) is die oudste en grootste rolprentmaatskappy in die Russiese Federasie en word ook as die grootste rolspeler in die Europese rolprentbedryf beskou. Sy hoofkwartier in Ramenki in die Westelike Administratiewe Distrik van Moskou, vlakby die Mossiesheuwels, met 'n totale oppervlakte van 14 000 m² huisves dertien rolprentateljees wat onder die modernstes in Europa gereken word.[1] Hier word steeds sowat tagtig persent van alle Russiese rolprente vir die silwerdoek en televisiekanale asook televisie-advertensies en videosnitte van Russiese popsterre vervaardig.[2] Vir belangstellende besoekers word besigtigingstoere aangebied. 'n Klein hotel, die Mosfilm Hotel, is op die ateljeeterrein geleë en staan eweneens oop vir die publiek.
In die vroeë 21ste eeu het Mosfilm grootskaals belê in die modernisering van sy vervaardigings- en tegniese geriewe. So is ateljees van moderne gesofistikeerde kamera- en ander tegnologieë voorsien. Die mees gevorderde digitale toerusting is in Mosfilm se klankateljee geïnstalleer. Twee van sy heropname-ateljees was die eerstes ter wêreld waaraan die Kaliforniese klankonderneming Dolby Laboratories in 2006 die sertfikaat van Dolby Premier Studio-gehalte toegeken het.[3][4]
In 2017 is die Dolby Premier-ateljees afgebreek om plek te maak vir die nuutste digitale omringklanktegnologie - Dolby Atmos. Die projek is deur die Britse klankkonsultansie White Mark bestuur.[5]
Mosfilm se lang lys van produksies sluit - naas onvermydelike propaganda - sowel befaamde rolprente uit die Sowjet-tydperk in, waaronder die werke van bekende regisseurs soos Andrei Tarkofski en Sergei Eisenstein, asook "Rooi Wilde Weste"-rolprente, Akiro Koerosawa se koproduksie Дерсу Узала (Dersoe Oezala) uit 1975 en die epiese werk Война и Мир ("Oorlog en vrede", 1968, 'n 70 mm-kleurfilm in drie dele[6]). In 2011 het Mosfilm begin om klassieke werke uit sy filmargiewe via 'n eie YouTube-kanaal vir die algemene publiek beskikbaar te stel (in Russies met Engelse onderskrifte), insluitende Andrei Tarkofski se wetenskapsfiksie-meesterwerk Solaris.[7]