Stigting
1555
Tipe
Handelskompanjie en
aandelemaatskappy
Hoofkantoor
Londen, Engeland
Filiale
Moskou - Old English Court
Verskillende Engelse seehawens
Die Muscovy Company (ook bekend as Muscovy Trading Company Russies: Московская компания, transkripsie: Moskovskaya kompaniya) was 'n Engelse handelskompanjie wat in 1555 volgens 'n royal charter (koninklike oktrooi) geïnkorporeer is. Die Muscovy Company, wat sy naam teen die einde van die 17de eeu amptelik gewysig het na Russia Company, was die eerste groot internasionale handelsonderneming wat sy bedrywighede deur die uitreiking van aandele gefinansieer het. Kapitaal, wat deur beleggers aan so 'n handelsonderneming voorsien is, was 'n medium- of langtermynbelegging wat nie onmiddellik na elke handelsreis weer uitbetaal is nie. Hierdie nuwe besigheidsmodel sou as voorbeeld dien vir 'n hele reeks soortgelyke ondernemings.
Aan die Muscovy Company is die monopolie op handelsregte met Moskowië toegeken wat tot 1698 bestaan het. Maar ook daarna het die handelsonderneming voortbestaan tot die Russiese Rewolusie in 1917. Die 18de eeu, waartydens ekonomiese betrekkinge tussen die twee lande hul hoogtepunt bereik het, was die goue tydperk van die Britse handel met Rusland. In ooreenkomste, wat tussen die partye aangegaan is, is 'n verskeidenheid voorregte aan die Russia Company toegeken. Een van die belangrikste ooreenkomste is in 1734 tydens die bewind van tsarin Katharina die Grote gesluit, met verreikende voorregte wat later verskeie kere bevestig is. Wanneer sy handelsbelange deur politieke maatreëls geraak sou kon word, het die kompanjie ook lobbiewerk vir sy saak in die Britse parlement gedoen.
Engeland se handels- en militêre vloot was dringend aangewese op skeepsboumateriale uit Rusland, terwyl die Tsareryk - alhoewel in mindere mate - van belang was as afsetmark vir Britse uitvoere soos lakens, yster, staal, leerprodukte en dranke. Baie winsgewend was die vervoer van Russiese uitvoere vanuit die Oosseehawens na Europese bestemmings - 'n bedryf wat gou byna volledig deur Britte beheer is. Rusland het hoofsaaklik massagoedere met 'n baie groot volume uitgevoer wat hoë vragwinste vir handel en skeepvaart gewaarborg het. Invoergoedere na Rusland was van hoër waarde, maar betreklik laer volume sodat mededingers - veral Nederlanders - in die invoerhandel geduld is.
Akademiese navorsing in die vroeë 21ste eeu, wat veral deur Gigliola Pagano de Divitiis en Marie-Christine Engels gedoen is en onder meer op Italiaanse bronne steun, gooi lig op handelsbetrekkinge en -strome tussen Rusland en die Mediterreense wêreld. So het Engelse handelsaktiwiteite daartoe bygedra dat Russiese handelsgoedere soos leer en kaviaar in die eerste helfte van die 17de eeu in groter hoeveelhede op Italiaanse markte, veral dié van Livorno, beskikbaar geword het.[1]
Talle Britse handelsliede het hulle in Rusland kom vestig waar - naas Archangelsk en Moskou - die nuutgestigte hoofstad en tsaresetel Sint Petersburg die middelpunt van Britse lewe in die land sou word. Hier het handelslui, wat as lede van die Russia Company geregistreer was, saamgesluit as British Factory. Baie van hulle het groot welvaart verwerf, soos weerspieël is in die statige stadspaleise wat hulle vir hulself langs die Engelse Kaai en die Galeiestraat (Галерная улица / Galernaja oelitsa) laat oprig het.
Sedert 1917 word die Russia Company as 'n welwillendheidsorganisasie bedryf wat in die Russiese Federasie werksaam is en finansiële steun aan Anglikaanse geestelikes bied. Die Anglikaanse St. Andrew's-kerk te Moskou - een van slegs drie Anglikaanse aanbiddingsplekke in heel Rusland - word deur die Russia Company onderhou. Histories het die kompanjie opgetree as beskermheer van Anglikaanse kerke in Moskou, Sint Petersburg, Cronstadt en Archangelsk.