Die NG gemeente Ficksburg is 'n Oos-Vrystaatse gemeente van die Nederduitse Gereformeerde Kerk met sy middelpunt op die dorp Ficksburg. Met die gemeente se stigting in 1869 was dit slegs die 13de gemeente in die Vrystaatse Sinode. Die gemeente vier sy 150-jarige bestaan in 2019.
Van 1970 tot 1999 het die gemeente Ficksburg-Noord naas die moedergemeente hier bestaan, maar dit is in laasgenoemde jaar by Ficksburg-gemeente ingelyf, al was die belydende lidmate van die gemeentes saam in 1999 skaars 200 minder as by afstigting 29 jaar vantevore. Al ander Vrystaats dorpe wat net een NG gemeente oorhet ná 'n inlywing, is Hennenman (die Oos- sowel as Wes-gemeente is tegelykertyd in 2012 by die moedergemeente ingelyf) en Viljoenskroon (die Oos-gemeente is in 2011 by die moedergemeente ingelyf). Binne die volgende 15 jaar het dit egter skerp afgeneem van 1 153 tot 656 in 2014 as gevolg van die groter charismatiese kerke wat tot stand gekom het op die dorp.