Bedford se huidige kerk is deur die argitekte Anthonie Smith en Douw Gerbrand Steenkamp in die tentstyl ontwerp as een van die vroeë voorbeelde van die sogenaamde kappiekerk. Steenkamp was die ontwerp-argitek. Ds. J.D. Thom het die hoeksteen gelê op 9 Augustus1957 en die bouaannemers was Swart & Kemp (Edms.) Bpk.[1]Die hoeksteen van die ou kerk op Bedford is in 1894 gelê. Dit dien as kerksaal sedert die ingebruikneming van die nuwe kerk.
Glen Lynden is die 19de oudste gemeente van die Nederduitse Gereformeerde Kerk in Suid-Afrika en die sesde oudste in die teenswoordige Sinode van Oos-Kaapland. Dit is op 17 Julie1829 gestig op die gelyknamige Oos-Kaapse dorpie, maar die swaartepunt van die gemeente het van 1891 af na die dorpie Bedford verskuif met Glen Lynden vandag net 'n buitewyk. Die gemeente het in 2009 153 belydende en 53 dooplidmate gehad, teenoor presies 99 meer van elk in 1985.