NG gemeente Nieu-Bethesda

Mev. Weich, eggenote van ds. A.A. Weich, het die hoeksteen van die teenswoordige kerkgebou op 11 Februarie 1905 gelê. Dit is later daardie jaar ingewy nadat dit, danksy hulp van lidmate, net £7 000 gekos het om te voltooi. Die gemeente het nog meer as 'n dekade lank geswoeg om die skuld te delg.
Nieu-Bethesda is geleë in die vrugbare en waterryke vallei van die Gatsrivier, maar weens sy afsondering het die plekkie tot omstreeks 1930 gefloreer, maar toe begin agteruitgaan toe bewoners van die omliggende plase verkies het om groter dorpe soos Graaff-Reinet vir sake te besoek.
Die hoeksteen van die meer as eeu oue NG kerkgebou op Nieu-Bethesda.
In die tweede helfte van die 19de eeu, toe Nieu-Bethesda tot stand gekom het, was 50 km 'n groot afstand om met 'n kar en perde af te lê en het selfs ds. Charles Murray van die Graaff-Reinet gevoel die behoefte aan behoorlike bearbeiding van die ingesetenes in en om die vrugbare vallei van die Gatsrivier het swaarder geweeg as die besware dat die gemeente nie lewensvatbaar sou wees nie. Toe die gebruik van die motorkar in die eerste helfte van die 20ste eeu algemeen word, het die skielike afname in die gemeente se lidmaattal bewys dat die doemprofete gelyk gehad het.
Die NG kerksaal op Nieu-Bethesda.
Toe dié foto van die kerkgebou in 1917, 12 jaar ná sy inwyding, geneem is, het daar nog 'n groot skuldlas op gerus, want hoewel dit net £7 000 gekos het om op te rig omdat lidmate self skouer aan die wiel gesit het, het die gemeente in die dekade daarna swaar gekry.

Die NG gemeente Nieu-Bethesda, soos dit amptelik bekendstaan maar na regte "Nu-Bethesda", is 'n gemeente van die Nederduitse Gereformeerde Kerk in die provinsie Oos-Kaap en in die Sinodale gebied van die NG Kerk in Oos-Kaapland met as middelpunt die dorpie Nieu-Bethesda. Teen 2012 was dit, naas die gemeentes Klipplaat en Waterford, die kleinste NG gemeente in die Sinode met net 58 belydende lidmate.

Die nedersetting waarbo die sierlike kerkgebou uittroon, is geleë in 'n boomryke vallei, 1 340 m bo seespieël en naby die hoogste berg in die Karoo, Kompasberg, die waterskeiding tussen die Oranje- en die Sondagsrivier. Die verkenner Robert Gordon het in 1778 vanaf die kruin van die berg strome in alle rigtings sien vloei, vandaar die naam. Dit was die hoogste bergpiek in die destydse Kaapprovinsie, maar val sedert 1994 in die provinsie Oos-Kaap. Die naam van die nedersetting was aanvanklik Nieuwe Bethesda, toe Nu-Bethesda (die korrekte spelling), net om in latere jare Nieu-Bethesda te word. (In Engels kom dit soms voor as New Bethesda, hoewel dit nie gebruiklik is nie.) Die dorpie is volgens die oorkonde in 1875 gestig, maar die gemeente eers drie jaar later in 1878. Sowat agt jaar later verkry Nieu-Bethesda munisipale status.


From Wikipedia, the free encyclopedia · View on Wikipedia

Developed by Nelliwinne