Die NG gemeente Queenstown is die 54ste oudste gemeente van die Nederduitse Gereformeerde Kerk en die 10de oudste in die Sinode van Oos-Kaapland. Dit is as onderskeidelik die 55ste en 11de gestig, maar het een plek opgeskuif met die samesmelting van 'n ouer Oos-Kaapse gemeente, Middelburg, met daardie gemeente se dogtergemeente, Middelburg-Uitsig. Dit was een van vier gemeentes wat in 1853 gestig is. Die ander drie was almal in die teenswoordige Sinode van Wes-en-Suid-Kaapland: Robertson op 19 Januarie, Oudtshoorn op 11 Oktober en Darling ook in Desember.
Die dorp Queenstown is in September 1853 gestig en die gemeente drie maande later. Sowel Ons gemeentelike feesalbum van 1952 as Ons Kerk Album van 1917 gee die stigtingsdatum van Queenstown aan as "vroeg in die jaar 1854", toe dit van die moedergemeente, Cradock, afgestig het, maar die gemeente self gee die datum aan as 16 Desember1853.[1]