Die NG gemeente Williston, met sy middelpunt op die gelyknamige dorp, is 'n gemeente van die Nederduitse Gereformeerde Kerk in die provinsie Noord-Kaap en in die Sinode van Noord-Kaapland.
Wat vandag die dorp Williston is, kan sy oorsprong terugvoer tot 1768 toe Johan Abraham Nel en sy gesin hulle kom vestig het aan 'n fontein naby die Sakrivier. Om die geboorte van sy tweede seun te gedenk het Nel 'n amandelboom geplant. Die plek het tot 1883 as Amandelboom bekendgestaan toe die naam verander is ter ere van kol. H. Willis, die Britse koloniale sekretaris aan die Kaap.