29°6′59.87″S 26°12′59.72″O / 29.1166306°S 26.2165889°O Die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum (NALN) is 'n sentrale bewaarplek vir materiaal en inligting oor die geskiedenis, ontwikkeling en omvang van die Afrikaanse letterkunde, musiek en toneel. NALN is in 1973 deur die Vrystaatse provinsiale owerheid gevestig en is in Bloemfontein gesetel. Dit word as 'n organisasie sonder winsbejag bestuur. Die besoektye is Maandag tot Vrydag, 8:00 – 16:00.[1]
NALN se versamelings omvat 'n beraamde driekwartmiljoen items.[2] Dit bevat versamelings van boeke, manuskripte, tydskrifte, koerante, uitknipsels, bladmusiek, plakkate en programme, 'n oudiovisuele versameling, asook ander unieke bewarenswaardighede. Daarnaas kan meublement en personalia uit skrywers en andere se literêre nalatenskap daar besigtig word.
Aan die voorkant is ’n tuin waar verskeie hoogwaardigheidsbekleërs deur die jare bome geplant het. Borsbeelde van skrywers, musici en toneelkunstenaars is onder die bome op voetstukke aangebring.