Die Natufiese kultuur is ’n argeologiese terrein uit die laat Epipaleolitikum wat omstreeks 12 000 tot 9 500 v.C.[1][2] of 13 050 tot 7 550 v.C.[3] in die Levant bestaan het. Die kultuur was ongewoon in die sin dat die mense ’n sedentêre (nienomadiese) of halfsedentêre leefstyl gehandhaaf het selfs voor die ontwikkeling van landbou.
Die Natufiese gemeenskappe kan die voorouers wees van die bouers van die eerste Neolitiese nedersettings in die streek, wat die oudstes ter wêreld kan wees. Die Natufiërs het ’n nedersetting gestig in wat vandag Jerigo is, en dit kan die langs aaneenlopend bewoonde stadsgebied op aarde wees. Daar is bewyse van die kweek van graan, veral gars, by Tell Abu Hureyra, die terrein met die eerste bewyse van landbou in die wêreld.[4] Die oudste tekens van die maak van brood is gevind by Shubayqa 1, ’n 14 500 jaar oue terrein in Jordanië se noordoostelike woestyn.[5] Die oudste bewyse van die maak van bier, omstreeks 13 000 v.C., is ook by die Raqefetgrot naby Haifa in Israel gevind.[6][7]
Oor die algemeen het die Natufiërs egter met wilde graan geëksperimenteer. Diere wat gejag is, sluit in gaselle.[8] Volgens die Amerikaanse antropoloog Christy G. Turner II is daar argeologiese en fisiese antropologiese bewyse vir ’n verhouding tussen die moderne Semitiessprekende bevolkings van die Levant en die Natufiërs.[9]
Argeogenetici het onthul latere Levantyne (Neolities tot Bronstydperk) stam hoofsaaklik van die Natufiërs af, benewens ook van die Chalkolitiese Anatoliërs (Kopersteentydperk).[10]
Die Engelse argeoloog Dorothy Garrod het die term "Natufies" begin gebruik gebaseer op haar uitgrawings by die Shuqbagrot (Wadi an-Natuf) in die weste van die Judeagebergte.
↑Moore, Andrew M. T.; Hillman, Gordon C.; Legge, Anthony J. (2000), Village on the Euphrates: From Foraging to Farming at Abu Hureyra, Oxford: Oxford University Press, ISBN978-0-19-510806-4