’n Kleinplaneet-maan is ’n natuurlike satelliet wat in ’n wentelbaan om ’n kleinplaneet is. Daar word geglo baie asteroïdes en Kuiper-gordel-voorwerpe het mane en dat party taamlik groot is. Die ontdekking van mane om kleinplanete (en tweeledige voorwerpe in die algemeen) is belangrik omdat hul wentelbane wetenskaplikes ’n beter idee gee van die massa en digtheid van die primêre voorwerp. Dit gee dus ’n insig in die fisiese eienskappe wat nie andersins moontlik sou gewees het nie.[1] Teen November 2011 is al 200 mane van kleinplanete ontdek.[2]