Neo-fascisme is 'n ideologie wat na die Tweede Wêreldoorlog ontstaan het en belangrike elemente van die oorspronklike fascisme ingesluit het. Neo-fascisme fokus gewoonlik op ultra-nasionalisme, rasse-meerwaardigheid, populisme, outoritarisme, nativisme en opposisie teen immigrasie in, asook opposisie teen die liberale demokrasie, parlementarisme, marxisme, kommunisme en sosialisme. Bewerings dat 'n groep neo-fascisties is, mag hewige debat ontlok, veral as die term as 'n politieke skelnaam gebruik word. Sommige post-Tweede Wêreldoorlog-regimes is as neo-fascistiese beskryf as gevolg van hul outoritêre aard, en soms as gevolg van hul bekoring van en simpatie met die fascistiese ideologie en rituele.
Post-fascisme is 'n etiket wat toegepas word op verskeie Europese politieke partye wat 'n gewysigde vorm van fascisme aanneem en wat deelneem aan grondwetlike politiek.[2][3]
Neo-fascisme en neo-Nazisme is nou verwante ideologieë want net soos neo-fascisme die oorspronklike Italiaanse facisme as nostalgiese basis gebruik, doen die neo-Nazisme dieselfde met die Nazi-Duitsland en sy nasionale sosialistiese beleidsrigtings as vertrekpunt. Sodanige bewegings kan rofweg onder die algemene oorkoepelende ideologie fascisme ingedeel word.[4]
Ander bewegings verwant aan neo-fascisme, poog om hul verskillende histories losverwante ideologieë te rehabiliteer. Hierdie bewegings sluit neo-fasciste en post-fasciste in Italië in; Vichyȉete, Dodeïste en "nasionale Europeërs" in Frankryk; Ustaše-simpatiseerders in Kroasië; neo-Chetniks in Serwië; Ystergarde herlewingswerkers in Roemenië; Hongariste en Horthyiste in Hongarye; Banderaiste in die Oekraïne (wat 'n ingewikkelde verhouding gehad het met die Spilmoondhede) en ander.