Neogotiese styl




Neogotiese styl

Gotiese Herlewing
Victoriaanse Gotiek


Bloeitydperk

1830 tot 1900


Verspreiding

Verenigde Koninkryk
Vastelandse Europa
Britse Ryk
Noord- en Suid-Amerika


Die Neogotiese styl, dikwels ook Victoriaanse Gotiek of Gotiese Herlewing (Gothic Revival) genoem, was 'n stroming in die 18de en 19de eeuse boukuns wat sy oorspronge in die laat 1740's in Engeland gehad het. Dit het in die vroeë 19de eeu baie gewild geraak toe steeds meer argitekte en ander bewonderaars van Middeleeuse Gotiese argitektuur 'n poging onderneem het om dié boustyl te laat herleef.

Die Paleis van Westminster huisves die Britse parlement
Grant Wood: American Gothic.
Die huis in die agtergrond, Dibble House, is 'n voorbeeld van Amerikaanse Carpenter Gothic
Olieverf op beaverboard, 1930. Art Institute of Chicago
Cathedral of Learning, Universiteit van Pittsburgh, Pennsilvanië, VSA - 'n neogotiese wolkekrabber met Art Deco-stylelemente (1926)

Neogotiese argitektuur is een van die vroegste strominge of neostyle binne die historisme, 'n beweging in kuns en argitektuur wat sy inspirasie en voorbeelde in style van die afgelope twee millennia probeer vind het en as sulks in die 19de eeu met 'n ander historiserende styl, die neoklassieke stroming, meegeding en gekontrasteer het.

Die Neogotiese styl het vinnig ook belangstelling op die vasteland van Europa gewek en het verder uitgebrei na alle dele van die Britse Ryk, waaronder Australië, Kanada, Nieu-Seeland en Suid-Afrika, die Verenigde State en Latyns-Amerika. In die Verenigde State het 'n verskeidenheid Goties-geïnspireerde style ontwikkel, waaronder 'n spesifiek landelike vorm van Neogotiese argitektuur, die sogenaamde Carpenter Gothic, wat aan tradisionele plaaslike houtboukuns aangepas is.

In Engeland, die bakermat en sentrum van die neogotiese beweging, was die styl nou verweef met wysgerige en godsdienstige bewegings en Middeleeuse studies (mediëvistiek). Hoe meer die nywerheidsomwenteling die leefstyle van mense, landskappe en stadsgesigte verander het, was daar ook sterk emosionele teenreaksies wat felle kritiek op tegniese vooruitgang, masjienvervaardiging en die ontstaan van 'n industriële samelewing gebied het. Skrywers en filosowe soos Thomas Carlyle het die voor-industriële Middeleeuse samelewing as die "goue tydperk" in die mens se geskiedenis beskryf. Vir die Engelse argitek en ontwerper Augustus Welby Northmore Pugin, die belangrikste 19de eeuse verteenwoordiger van Neogotiese boukuns en wetenskaplike van formaat, was die Gotiese boukuns nou verbind met Christelike waardes wat volgens hom deur die klassisisme verdring en deur industrialisasie uitgewis is. Victoriaanse argitekte het 'n ambisieuse bouprogram begin waarvolgens oral in die Verenigde Koninkryk en in dele van die Britse Ryk met Christelike bevolkings kerkgeboue in die Neogotiese styl ontstaan het.[1]

Daar is ook politieke konnotasies aan die Gotiese Herlewing geheg. So is die "rasionele" en "radikale" Neoklassieke styl dikwels verbind met republikeinse en liberale strominge, na aanleiding van sy gewildheid in die Verenigde State en in mindere mate ook in Republikeinse Frankryk, terwyl die meer "spirituele" en "tradisionele" Neogotiese styl met monargisme en konserwatisme geassosieer is, soos in die boustyle van die heropgeboude Paleis van Westminster in Londen en die Parlementsheuwel in Ottawa weerspieël is.

Die Neogotiese styl het uitgestraal na die 19de-eeuse lewenstyle en selfs die literatuur. Na mate die kultuur, geesteswêreld en vryheidstrewe van Middeleeuse stede en stadstate geïdealiseer is, het die Neogotiese ontwerpe vir kerk- en parlementsgeboue, raadsale en universiteite, maar ook die vir ander openbare geboue soos poskantore, skole en treinstasies probeer aanknoop by die Middeleeuse ideaal.

In die Engelse en Duitse literatuur het 'n nuwe genre van digkuns en prosa ontstaan. In Engeland het Horace Walpole, die 4de graaf van Orford, se Castle of Otranto, wat in 1746 gepubliseer is, as inspirasie vir 19de-eeuse digkuns met 'n Middeleeuse inslag gedien. Gedigte soos Alfred Tennyson se Idylls of the King het moderne onderwerpe in 'n Middeleeuse omgewing van Artus-romantiek geplaas.

Vir die Duits-Amerikaanse kunshistorikus Erwin Panofsky (1892−1968) was die Gotiese Herlewing 'n soort romantiese verlange na 'n verlede wat vir altyd verlore was, en dit het volgens hom gekontrasteer met die Renaissance-tydperk waartydens mense gepoog het om 'n beter toekoms te bou, gegrond op klassieke ideale.

  1. The Royal Institute of British Architects (RIBA) - Architecture.com: Gothic. Besoek op 17 April 2019

From Wikipedia, the free encyclopedia · View on Wikipedia

Developed by Nelliwinne