Die Nikolaiviertel ("Nikolaikwartier") was een van die vroegste kwartiere waarin die Berlynse stadsgebied vanaf die 13de eeu onderverdeel is. Net soos die ander stadsbuurte van hierdie periode (Heilig-Geist-Viertel, Marienviertel en Klosterviertel) is dit na 'n kerkinstelling vernoem, naamlik die Nikolaikerk as sy sentrale gebou.
Die huidige Nikolaiviertel is tussen 1985 en 1987 ter geleentheid van die 750-jaarfeesviering van Berlyn in 1987 in 'n historiserende styl heropgebou. Dit is in die stadsdeel Mitte aan die oostelike oewer van die Spreerivier tussen Rathausstraße, Spandauer Straße en Mühlendamm geleë.