T-6 Texan Harvard | |
---|---|
Tipe | Gevorderde opleidingsvliegtuig |
Vervaardiger | North American Aviation |
Nooiensvlug | 1 April 1935 |
Status | Onttrek aan militêre diens |
Hoofgebruikers | United States Army Air Forces Amerikaanse Vloot Royal Air Force Suid-Afrikaanse Lugmag |
Aantal gebou | 15,495 |
Ontwikkel van | North American NA-16 |
Weergawes | North American A-27 |
Die North American Aviation T-6 Texan is 'n enkelmotorige gevorderde opleidingsvliegtuig van die Tweede Wêreldoorlog-era. Dit is gebruik om vlieëniers van die United States Army Air Forces (USAAF), Amerikaanse Vloot, Royal Air Force en ander lugmagte van die Britse Statebond gedurende die Tweede Wêreldoorlog tot selfs in die 1970's op te lei.
As 'n ontwerp van North American Aviation, is die T-6 onder 'n hele paar verskillende benamings bekend, afhangende van die model en die funksie in 'n lugmag. Die United States Army Air Corps en USAAF verwys na dit as die AT-6, die Amerikaanse Vloot as die SNJ, en die Britse Statebond se lugmagte (ook in Suid-Afrika) as die Harvard, die naam waaronder dit die beste bekend is buite die VSA. Na 1962 het die Amerikaanse magte dit aangewys as die T-6.
Dit is 'n gewilde versamelaarsvliegtuig wat gebruik word vir lugdemonstrasies en statiese uitstallings. Dit is ook vele keer gebruik om die Japannese Mitsubishi A6M Zero na te boots in films wat die Tweede Wêreldoorlog in die Stille Oseaan uitbeeld.