Die Northridge-aardbewing het die Amerikaanse stad Los Angeles (Kalifornië) op Martin-Luther-King-dag, 17 Januarie 1994, om 4:30:55 v.m. (Pasifiese Tyd) geskud. Die aardbewing het 'n matige 6,7 op die moment-magnitude-skaal gemeet. Nogtans was sy grondversnelling die hoogste wat ooit in 'n Noord-Amerikaanse stedelike gebied gemeet is, en dit het van die bewing die duurste in die geskiedenis van die Verenigde State gemaak.
Northridge was die vierde verwoestende aardbewing wat die deelstaat Kalifornië in 23 jaar geskud het. Die ander bewings was die San Fernando-aardbewing in die jaar 1971 (6,6 op die moment-magnitude-skaal), die Loma Prieta-aardbewing suid van San Francisco in 1989 (6,9 op die moment-magnitude-skaal) en die Coalinga-aardbewing op 2 Mei 1983 (6,5 op die Richterskaal).
Die aardbewing was die mees verwoestende in die Verenigde State sedert die San Francisco-aardbewing in 1906. Volgens die skade, wat berokken is, was dit ook een van die ergste natuurrampe in die geskiedenis van die VSA, wat vergelykbaar was met die orkaan Andrew in 1992.