Die Nowgorod-kremlin (Russies: Новгородский кремль; Nowgorodski Kreml), ook bekend as die Detinets (Дети́нец), lê aan die linkeroewer van die Wolchof-rivier.
Die grond waarop dit geleë is, was oorspronklik ’n heidense begraafplaas. Die eerste biskop van Weliki Nowgorod, Ioakim Korsoenianin, het omstreeks 989 die Sint Sofia-katedraal daar gebou. Dit is dus hoofsaaklik ’n kerkterrein, hoewel baie bojare (adellikes) van Nowgorod hul huise in die suidelike deel van die Detinets gebou het.[1]
Die eerste verwysing na fortmure op die terrein dateer uit 1044, en verdere bouwerk het in 1116 plaasgevind. Steenmure en –torings is in 1302 gebou. Die mure aan die oostekant is in 1331–1335 herbou en die res is eers in 1400 in steen herbou. ’n Deel van die muur aan die oostekant het in 1437 in die rivier gestort en dit is daarna herbou.[2]