Omkeerstrategie

In die lewensiklus van organisasies kom hulle dikwels voor verskeie uitdagings te staan. Een daarvan is wanneer die organisasie se bedrywighede sodanig versleg dat dit op die rand van totale ineenstorting of bankrotskap staan. Sommige instansies slaag daarin om die uitdaging die hoof te bied en bankrotskap af te weer. Die proses wat vir dié doel gevolg word, staan as ’n omkeerstrategie bekend.

’n Omkeerstrategie is ’n proses of ingreep wat beplan, ontwikkel en in werking gestel word ten einde ’n  volhoubare verbetering in die prestasie of resultate van ’n organisasie te bewerkstellig. Dit is ’n proses wat die negatiewe, afwaartse neigings in ’n organisasie verander na positiewe, opwaartse neigings, of wat aktiwiteite van ’n organisasie van swak of onbevredigend na beter of bevredigend omskakel.

Die definisie is van toepassing op enige toestand of situasie, hetsy persoonlik of ten opsigte van ’n sake-entiteit met ’n winsmotief of ’n diensleweringsinstansie soos ’n munisipaliteit of ’n staatsdepartement.


From Wikipedia, the free encyclopedia · View on Wikipedia

Developed by Nelliwinne