Seehawe van antieke Rome
Stigting
7de eeu v.C. deur Ancus Martius,
koning van Rome
Bevolking
Omstreeks 50 000 tot 100 000
Ondergang
9de eeu n.C.
Argeologiese park
Parco Archeologico di Ostia Antica
Ostia Antica is 'n antieke ruïnestad, geleë naby die monding van die Tiberrivier en sowat 25 km suidwes van die Italiaanse hoofstad Rome, wat tans deel uitmaak van die Parco Archeologico di Ostia Antica, een van die belangrikste en grootste argeologiese terreine in Italië. Die stadsnaam is afgelei van die meervoudsvorm van die Latynse ostium («riviermonding»). Ter onderskeiding van die gelyknamige moderne nedersetting Ostia (of Lido di Ostia, aldus sy amptelike naam as voorstad van Rome), word na die Romeinse hawestad as Ostia Antica (Ou Ostia) verwys.
Volgens antieke oorlewerings is Ostia in die 7de eeu v.C. deur Ancus Martius, die vierde koning van Rome, gestig, alhoewel hierdie datum nie deur argeologiese opgrawings gesteun word nie. In die 4de eeu v.C. is Ostia as militêre buitepos ter verdediging van Rome uitgebou. Die seehawe het sy bloeitydperk tussen 100 v.C. en 200 v.C. beleef toe dit uitgebrei is. Die bevolking, wat op tussen 50 000 en 60 000 beraam is (moontlik 100 000 gedurende sy bloeitydperk), het veral uit lede van die middelklas bestaan (onder wie skeepsbouers, groothandelaars, handelaars en ambagslui) wat in Ostia 'n bestaan gemaak het uit die florerende in- en uitvoerhandel met nabygeleë Rome. Hulle is oorwegend in sogenaamde insulae, woonstelgeboue met meerdere verdiepings, gehuisves. Die laer klasse het hawearbeiders en slawe ingesluit.
Veral gedurende die prinsipaat van Augustus het die stad 'n ekonomiese opswaai beleef as die seehawe waar invoergoedere soos wyn, olyfolie en graan vir die miljoenestad Rome hier gehanteer en gestoor is. Invoere is hier van skepe op kleiner rivierbote gelaai en op die Tiber na Rome vervoer. Die vaart rivierop oor 'n afstand van 23 km het destyds sowat drie dae geneem. Daarnaas is Ostia en Rome deur 'n pad, die Via Ostiense, met mekaar verbind.
Ostia was daarnaas 'n gewilde woonplek langs die Tirreense See waar patrisiërs uit Rome hul seevilla's (villae maritimae) laat bou het. Hierdie gebouekomplekse, wat uit die tydperk tussen die 1ste en 3de eeu n.C. dateer en langs die kuspad Via Severiana ontstaan het wat in noord-suidelike rigting loop, maak eweneens deel uit van die Parco Archeologico di Ostia Antica en is op die landgoed Procoio geleë. In die Romeinse tydperk is hulle deur drie paaie, Via Ostiensis, Via Laurentina en Via Ardeantina, met Rome verbind.[1]
Die agteruitgang van Ostia het in die 6de eeu n.C. ná die val van die Romeinse Ryk begin. Vanaf die 9de eeu was die stad verlate. Sommige van sy laat antieke bewoners is buite die antieke stadsmuur in 'n nuwe nedersetting gehuisves wat na sy stigter, pous Gregorius IV, Gregoriopolis genoem is.[2]