Die Pakistanse nasionale krieketspan (Engels: Pakistan national cricket team; Oerdoe: پاکستان قومی کرکٹ ٹیم, Pākistān qaumī kirkeṭ ṭīm), met die byname Shaheens (شاہین; letterlik: “valke”),[13][14]Green Shirts,[15]Men in Green,[16][17][18] is die nasionale krieketspan wat Pakistan in toets- en kitskrieket verteenwoordig. Dit word beheer en geadministreer deur die Pakistanse Krieketraad (PCB) en is ’n volle lid van die Internasionale Krieketraad (IKR) met toets-, EDI- en T20I-status. Pakistan is tans (Junie 2024) sesde op die IKR-toetsranglys, vierde op die eendagranglys en sewende op die Twintig20-wêreldranglys.[19][20][21]
Pakistan het 456 toetswedstryde gespeel, 148 gewen, 142 verloor, in nul gelykop en in 166 onbeslis gespeel.[22] Pakistan het, as die tweede land in Asië, op 28 Julie 1952 toetsstatus verkry – op aanbeveling van Indië – en Pakistan het sy toetsdebuut teen Indië op Feroz Shah Kotla Ground, Delhi, in Oktober 1952 gemaak, wat Indië met ’n beurt en 70 lopies gewen het.[23] In die 1930’s en 1940’s, voor die Verdeling van Indië in 1947, het verskeie Pakistanse krieketspelers vir die Indiese krieketspan in toetswedstryde verskyn.
Pakistan het 245 Twintig20 gespeel, meer as enige ander span, 142 gewen, 92 verloor, in vier gelykop en in sewe onbeslis gespeel.[25] Pakistan het die eerste T20I-wêreldbeker 2007 as naaswenner afgesluit en die T20I-wêreldbeker 2009 gewen, later het hulle ook die T20I-wêreldbeker 2022 as naaswenner afgesluit.
Pakistan het ook die Kampioenetrofee 2017 vir die eerste keer gewen, nadat hulle Indië verslaan het. Pakistan het sodoende die eerste span geword wat al die vername internasionale kriekettoernooie gewen het: Krieketwêreldbeker, T20I-wêreldbeker, Kampioenetrofee en die Toetskampioenskap.[26][27] Sewe voormalige Pakistanse spelers is in die Internasionale Krieketraad se Heldesaal opgeneem.
Terrorisme in Pakistan het daartoe gelei dat verskeie nasionale spanne nie na dié land getoer het nie, en ná die 2009-aanval op die Sri Lankaanse nasionale krieketspan nie meer internasionale krieketwedstryde in Pakistan gespeel is nie.[28] Eweneens is Pakistan van sy rol as medegasheer vir die Krieketwêreldbeker 2011 ontneem.[29][30] Vanaf 2009 het Pakistan sy tuiswedstryde veral in die Verenigde Arabiese Emirate gespeel.[31] Maar ná die afname van terreuraanvalle in Pakistan gedurende die onlangse jare, en die verbetering van veiligheid in dié land, het verskeie spanne sedert 2015 weer na Pakistan begin toer.[32] Van die spanne sluit in Zimbabwe, Sri Lanka, Wes-Indië, Bangladesj, Suid-Afrika, Australië, Engeland, Nieu-Seeland en ’n IKR Wêreld XI. Daarbenewens is wedstryde van die Pakistan Superliga in Pakistan aangebied.[33][34][35][36][37]