Pannonia Superior was een van die Romeinse Donauprovinsies, geleë tussen die oostelike Alpe, die Donau en die Saverivier - ’n gebied wat die weste van moderne Hongarye, die Oostenrykse deelstaat Burgenland, die Weense Bekken en 'n gebied op die Balkanskiereiland tussen die Save- en Dravariviere beslaan het en deur (waarskynlik) Illiriese Pannoniërs bewoon is. Sy administratiewe setel was Carnuntum.[1][2]
Pannonia Superior het sy oorsprong in Pannonia, 'n provinsie wat in 10 n.C. deur keiser Augustus ingerig is. Later, in 103 of 106, is hierdie provinsie deur Trajanus in twee administratiewe eenhede verdeel, Pannonia Inferior en Pannonia Superior.[3]
Die provinsie is deur uitgestrekte met vrugbare vlaktes oorheers. Syriviere van die Donau het die water vir 'n florerende landboubedryf verskaf. Landgoedere, waarvan sommige die karakter van klein nedersettings gehad het, het veral in die vrugbaarste streke ontstaan, waaronder die Weense Bekken. Die belangrikste riviere was Arrabo (tans bekend as Raab), Danuvius en Hister (tans albei bekend as Donau), Dravus (Drau of Drava), Murus (Mur) en Savus (Save). Die Balatonmeer het in die antieke tydperk as Lacus Pelso bekendgestaan, terwyl die huidige Neusiedlermeer (Neusiedler See in Burgenland) net as moerasgebied bestaan het of gedeeltelik uitgedroog was.