Paolo Veronese | |
---|---|
Selfportret, 1558–1563, Hermitage Museum | |
Gebore | 1528 Verona, Venesiese Republiek |
Sterf | 19 April 1588 Venesië, Venesiese Republiek |
Nasionaliteit | Venesies |
Beroep | Skilder |
Handtekening | |
Paolo Caliari (1528 – 19 April 1588), bekend as Paolo Veronese (it), was 'n Italiaanse Renaissance skilder. Hy het vanuit Venesië gewerk en was bekend vir sy groot historiese skilderye oor godsdienstige en mitologiese temas, soos Die huwelik by Cana (1563) en Die fees in die Huis van Levi (1573). Veronese is, saam met Titiaan van die vorige generasie en Tintoretto, sy senior met 'n dekade, deel van die "groot trio" wat die Venesiaanse skilderkuns gedomineer het tydens die cinquecento" en die laat-Renaissance in die 16de eeu.[1] Ná 'n vroeë neiging tot die Mannerisme het Veronese sy eie naturalistiese styl ontwikkel wat beïnvloed is deur Titiaan.[2]
Sy bekendste werke is deel van uitgebreide verhalende siklusse, uitgevoer in 'n dramatiese en kleurvolle styl, teen 'n agtergrond van majestueuse argitektoniese omgewings. Sy groot skilderye van Bybelse feeste wat geskilder is vir kloosters in Venesië en Verona is veral bekend, en hy was ook die leidende Venesiese skilder van plafonne. Die meeste van hierdie werke is steeds in situ, of ten minste in Venesië. In die meeste museums word Veronese se werk verteenwoordig deur kleiner werke soos portrette, wat nie van sy beste werk is nie.
Hy is nog altyd waardeer vir "die chromatiese briljantheid van sy palet, die prag en gevoeligheid van sy kwaswerk, die aristokratiese elegansie van sy figure en die grootsheid van sy beelding", maar daar is dié wat die mening toegedaan is dat sy werk "nie die uitdrukking van die diep menslike of die verhewe vasvang nie". Van die "groot trio", word hy dikwels die minste waardeer deur moderne kritici.[1]Nietemin "kan baie van die grootste kunstenaars ... onder sy bewonderaars gereken word, insluitend Rubens, Watteau, Tiepolo, Delacroix en Renoir".[3]