Ds. Pieter Johannes Jurgens Boshoff (Philippolis, Oranje-Vrystaat, 3 Julie 1864 – Bloemfontein, Suid-Afrika, 6 April 1944) was tussen 1892 en 1931 ’n predikant in vyf gemeentes van die Nederduitse Gereformeerde Kerk, waarvan Bloemfontein twee keer, van September 1904 tot einde Mei 1912 en weer van Mei 1920 tot hy sy emeritaat aanvaar het in Mei 1931.
P.J.J. Boshoff was ’n seun van Matthys Petrus Adrianus Boshoff en sy vrou, Josina Maria Fouché. As leerlinge aan die goewermentskool op Philippolis was hy en sy neef die latere ds. W.H. Boshoff (1865–1918), einde 1879 twee van die vier ontvangers van die goewermentsbeurse wat destyds jaarliks in 'n openbare wedstryd vir Vrystaatse skole toegeken is en waarmee seuns die volgende jaar na die Grey-kollege op Bloemfontein kon gaan.