Ná die ontdekking van die planeet Neptunus in 1846 was daar verskeie gissings oor nog ’n planeet wat verder van die Son af bestaan. Die soektog het in die middel 19de eeu begin en ’n hoogtepunt vroeg in die 20ste eeu bereik met Percival Lowell se soeke na Planeet X. Lowell het die Planeet X-hipotese voorgestel as verduideliking vir die oënskynlike afwykings in die wentelbane van die gasreuse, veral Uranus en Neptunus,[1] en gespekuleer dat die swaartekrag van ’n groot, onsigbare negende planeet Uranus genoeg versteur om die onreëlmatighede te verduidelik.[2]