Reeds sedert die ontdekking van Neptunus in 1846 was daar aansienlike spekulasie dat nog ’n planeet ver weg van die Son bestaan, wat Planeet X genoem is, en is daar gesoek na nog planete anderkant Neptunus. Aan die begin van die 20ste eeu het die sterrekundige Percival Lowell na nog ’n planeet begin soek. Hy het dit voorgestel as die rede vir oënskynlike ongerymdhede in die wentelbaan van die reuseplanete, veral Uranus en Neptunus,[1] en het gemeen die swaartekrag van ’n groot, onsigbare planeet kan Uranus genoeg versteur om die ongerymdhede te verduidelik.[2]
Clyde Tombaugh se ontdekking van Pluto in 1930 het skynbaar Lowell se hipotese bewys. In 1978 is ontdek Pluto is heeltemal te klein dat sy swaartekrag die groot planete kan beïnvloed, en dit het gelei tot ’n soeke na nog ’n planeet. Die soeke is in die vroeë 1990's in ’n groot mate afgelas nadat in ’n studie deur die Voyager 2-ruimtetuig bevind is die onreëlmatighede in Uranus se wentelbaan is vanweë ’n effense oorskatting van Neptunus se massa.[3] Ná 1992 het die ontdekking van talle klein ysige voorwerpe met dieselfde of selfs ’n groter wentelbaan as Pluto gelei tot ’n debat oor of Pluto ’n planeet behoort te bly en of hy en sy bure ’n eie klassifikasie moet kry, nes die asteroïdes. Hoewel ’n paar van hierdie groter voorwerpe aanvanklik as planete beskryf is, het die Internasionale Astronomiese Unie (IAU) Pluto en sy grootste bure in 2006 as dwergplanete herklassifiseer. Neptunus is sedertdien die verste bekende planeet in die Sonnestelsel.[4]
Hoewel die sterrekundegemeenskap in ’n groot mate saamstem dat Planeet X, soos dit aanvanklik voorgestel is, nie bestaan nie, het die idee van ’n groot planeet wat nog nie ontdek is nie herleef deurdat ’n paar sterrekundiges dit gebruik as verduideliking vir ander afwykings wat in die buitenste Sonnestelsel waargeneem is.[5] In Maart 2014 het waarnemings met die WISE-teleskoop die moontlikheid van ’n planeet so groot soos Saturnus (95 aardmassas) tot by 10 000 astronomiese eenhede (AE) en een so groot soos Jupiter (≈318 aardmassas) of groter tot by 26 000 AE uitgeskakel.[6]
Gebaseer op die ooreenkomste tussen die wentelbane van ’n groep onlangs ontdekte verafgeleë trans-Neptunus-voorwerpe het sterrekundiges in 2014 ’n hipotese ontwikkel oor die bestaan van ’n superaarde, met ’n massa van 2 tot 15 keer dié van die Aarde en met ’n moontlike groot baanhelling, by sowat 1 500 AE.[7] In 2016 het verdere werk getoon hierdie onbekende planeet het moontlik ’n eksentrieke wentelbaan met ’n groot helling wat nie nader as 200 AE en nie verder as sowat 1 200 AE van die Son af lê nie. Die wentelbaan lyn waarskynlik nie op met dié van die saamtrossende verafgeleë trans-Neptunus-voorwerpe nie.[8] Omdat die IAU Pluto nie meer as ’n planeet beskou nie, het dié hipotetiese voorwerp die naam Planeet Nege gekry.[9]
{{cite journal}}
: Onbekende parameter |last-author-amp=
geïgnoreer (hulp)