Plants of the World Online (POWO) is 'n aanlyndatabasis wat deur die Koninklike Botaniese Tuin, Kew (Eng. Royal Botanic Gardens, Kew) gepubliseer en in stand gehou word. Dit is in Maart 2017 bekendgestel met die uiteindelike doelwit om gebruikers toegang tot inligting oor al die wêreld se bekende saaddraende plante teen 2020 te bied.[1] Dit was Kew se antwoord op die "2020-teiken 1" van die Konvensie oor Biologiese Diversiteit (CBD): "'n aanlyn flora vir alle bekende plante."[2]
Die aanvanklike fokus was op tropiese Afrika-floras, veral Flora Zambesiaca, Flora van tropiese Wes-Afrika en Flora van tropiese Oos-Afrika.
Die databasis gebruik dieselfde taksonomiese bron as Kew's World Checklist of Selected Plant Families, wat die Internasionale Plantnaamindeks is, en die World Checklist of Vascular Plants (WCVP).[3]
Teen September 2024 bevat POWO 1 433 000 wêreldwye plantname, 531 800 gedetailleerde beskrywings en 400 900 beelde.[4]