Plinius die jongere | |
---|---|
Standbeeld van Plinius die jongere op die fasade van die Comokatedraal in noord-Italië | |
Gebore | Gaius Caecilius of Gaius Caecilius Cilo 61 n.C. |
Sterf | 112 n.C. |
Nasionaliteit | Antieke Romeins |
Beroep | regsgeleerde, outeur en magistraat |
Ouer(s) | Lucius Caecilius Cilo en Plinia Marcella |
Gaius Plinius Caecilius Secundus, gebore Gaius Caecilius of Gaius Caecilius Cilo (61 n.C. – ca. 112 n.C.), beter bekend as Plinius die jongere, was 'n regsgeleerde, outeur en magistraat van antieke Rome. Plinius se oom, Plinius die ouere, het gehelp om hom groot te maak en bygedra tot sy opleiding. Op 24 Augustus van die jaar 79 n.C. was hulle beide ooggetuies van die uitbarsting van Vesuvius.
Plinius is bekend om sy honderde behoue briewe, wat hooggeskat word as eietydse historiese bronne. Vele is aan die regerende keiser van die dag gerig, of aan prominente persoonlikhede soos die geskiedkundige Tacitus. Plinius was self 'n vername figuur, aangestel as keiserlike magistraat onder Trajanus (bewindstermyn 98–117 n.C.).[1] Plinius is beskou as 'n betroubare en gematigde persoon, sodat hy opgang gemaak het deur 'n opeenvolging van keiserlik siviele en militêre aanstellings, die sogenaamde cursus honorum. Hy was bevriend met die geskiedkundige Tacitus, en die biograaf Suetonius het onder sy staf getel. Plinius het verder kontakte opgebou met verskillende ander welbekendes van sy tyd, insluitend die filosowe Artemidoros en Euphrates tydens sy verblyf in Sirië.[2]