Die Pomake (Bulgaars: Помаци, Pomatsi; Grieks: Πομάκοι, Pomákoi; Turks: Pomaklar) is 'n term wat verwys na Bulgaarstalige Moslems wat in Bulgarye, noordoostelike Griekeland en noordwestelike Turkye bly.[8] Die sowat 220 000 mense omvattende[9]etnies-religieuse minderheid staan in Bulgarye amptelik as Bulgaarse Moslems bekend.[10] Dié term is ook in 'n wyer konteks gebruik en sluit soms ook die Slawiese Moslembevolking van Noord-Masedonië en Albanië in.[11][12]
Etnografiese kaart van Europese Turkye in die laat 19de eeu met die streke wat veral deur Pomake bevolk is in bruin
Hulle praat verskeie Bulgaarse dialekte en van dié wat in Griekeland en Turkye gebesig word, word in hierdie lande Pomaks genoem.[13] Die gemeenskap in Griekeland praat algemeen vlot Grieks en in Turkye vlot Turks, alhoewel die gemeenskappe in albei lande, veral in Turkye as gevolg van onderwys en familiebande met Turke, meer en meer Turks as hul moedertaal gebruik.[14][15] Dit is egter omstrede op watter wyse Pomaks as 'n eie taal klassifiseer, aangesien dit net mit van die taal wat deur hul Christelike bure gebesig word, verskil.
Hulle word nie amptelik as een volk met die etnoniem "Pomake" erken nie. Die term verwys algemeen na al die Oos-Suid-Slawiese Moslems en dit word soms as 'n pejoratief ('n neerhalende term) beskou.[16] In Griekeland en Turkye is die praktyk om die etniese groep in sensusse op te neem egter oor dekades heen afgeskaf. Verskeie lede van die groep gee 'n verskeidenheid etniese groepe aan: Bulgaar,[17][18] Pomak,[19][20][21] Moslem, Turk en ander.[22] Waar die term Pomake vandaan kom, is onduidelik. Volgens 'n veral in Bulgarye gewilde volksetimologiese verduideliking het die term sy oorsprong in die woord помагачи [pɔmagatʃi], wat "helper" beteken en uit die tyd van die Ottomaanse Ryk dateer. Die huidige term word eers sedert die 19de eeu gebruik.[23]