Predestinasie in Calvinisme is 'n leerstelling wat handel oor die beheer wat God oor die wêreld uitoefen. Volgens die Westminster Konfessie het God "...van alle ewigheid, deur die alwyse en heilige raad van sy wil, vry en onveranderlik beskik wat daar moet geskied..." maar ook dat God nie die outeur van sonde is of die wil van die skepsel geweld aan doen nie.[1][2] Die tweede gebruik van die woord predestinasie pas dit toe op saligheid en verwys na die oortuiging dat God die ewige bestemming van sommige tot die hemel deur genade aangewys het (Onvoorwaardelike Uitverkiesing), terwyl Hy die res oorlaat in hulle boosheid om ewige verdoemenis vir al hul sondes, selfs hul erfsonde, te ontvang (Verwerping). Volgens Calvinisme word dié wat vooraf bepaal is vir saligheid deur God geroep op 'n kragdadige wyse om tot geloof te kom, terwyl alle ander verwerp word.
Calvinisme plaas meer klem op verkiesing in vergelyking met ander strominge van Christendom.[3]