Presnenski (amptelik Пре́сненский райо́н Présnenskij rajón; in die omgangstaal dikwels kortweg Пре́сня Présnja genoem, afgelei van die gelyknamige rivier wat deur die buurt vloei), is een van die administratiewe distrikte van Moskou met 'n bevolking van 123 284 volgens die sensus van 2010.
Moskou se ultramoderne sakebuurt Moskwa-Siti is in die distrik geleëDie metrostasie Krasnopresnenskaja se naam herinner aan Presnenski se rewolusionêre verlede, net soos dié van Barrikadnaja - 'n verwysing na die barrikades wat deur stakende werkers opgerig isDie Trjochgornaja-tekstielaanleg is gedurende die Sowjet-tydperk in 'n kombinat omgeskep. Tans huisves die fabriekskompleks onder meer winkels, kroeë en luukse solderwoonstelleDie Patriargevywers (deur Moskowiete dikwels kortweg Patriks genoem) is een van Presnenski se welvarende kwartiere, genoem na 'n (ondanks die meervoudsvorm in die naam) enkele kunsmatige meer. Oorspronklik was daar meerdere mere wat as foreldamme vir die Moskouse patriarg aangelê en deur die Presnenskirivier gevoed is. Die buurt is onsterflik gemaak as die plek waar die openings- en ander tonele van Michail Boelgakof se meesterwerk van magiese realisme Мастер и Маргарита (Master i Margarita, «Die meester en Margarita») afspeel, 'n satiriese kykie op Moskou in die Stalintydperk waarin die duiwel 'n besoek aan die stad bringDie Patriarg-woonstelgebou van 2003 word deur 'n "parafrase op Wladimir Tatlin se «Monument van die IIIde Internasionale» bekroon"[1] (ongelukkig nie sigbaar op die foto nie)Die Withuis van Moskou, setel van die Russiese regering. Die gebou is reeds in 1935 deur Dmitri Tsjetsjoelin as «Lugvaartpaleis» ontwerp, maar eers gedurende die 1970's verwesenlikDie gebouekompleks van die Verenigde State se Ambassade in die Russiese Federasie is een van die diplomatieke sendings wat in Presnenski gevestig is, bestaande uit 'n ouer gebou (oorspronklik opgerig as woonstelgebou en in 1953 vir die ambassade se behoeftes omgebou deur die Sowjet-regering, links op die foto), 'n nuwe kantoorgebou wat in 2013 begin is (nadat die Russiese geheime diens 'n vroeëre gebou blykbaar van heelwat meeluisterapparate voorsien het[2]), en Spaso-huis as ampswoning van die Amerikaanse ambassadeurDie rewolusionêr en kommunistiese martelaar Nikolai Bauman (1873–1905) se laaste rusplek op die Wagankowo-begraafplaas in Presnenski
Presnenski is anderkant die Tuinring (Садовое колъцо) tussen die historiese stadsdeel Arbat en die nuwe wolkekrabberbuurtMoskwa-Siti (Moskwa-City) geleë. Met die bou van die Trjochgornaja-tekstielmanufaktuur in 1799 (die oudste in Moskou wat na drie heuwels in sy onmiddellike omgewing genoem is[3]) het Presnja, soos dit destyds genoem is, tot die Russiese hoofstad se nywerheidsbuurt begin groei. Gedurende die 19de eeu is steeds meer industriële aanlegte hier opgerig soos die Mamontof-kleurefabriek, die Danilof-suikerraffinadery en die Prochorof-manufaktuur.[4]
Danksy sy ligging in Sentraal-Moskou het Presnenski se karakter in die 20ste eeu ingrypend verander. Die oorspronklike nywerheids- en werkerskwartier is tans 'n gegoede woonbuurt met talle restaurante en 'n ryk kulturele en sosiale lewe. Die Moskouse planetarium en dieretuin is gewilde trekpleisters vir Moskowiete en toeriste. Ook enkele ambassades is in Presnenski geleë, waaronder dié van die Verenigde State; soms is statige historiese woongeboue van welvarendes omgebou om diplomatieke sendings te huisves.