Produktoetsing

Produktoetsing omvat die ondersoek van die samestelling en eienskappe van materiale wat in vervaardiging gebruik word. Verskillende materiale, soos beton, yster, plastiek, ensovoorts, word hierdeur getoets vir onder meer korrosiebestandheid, belastingsweerstand, materiaalvermoeiing, en dies meer. Produktoetsing omsluit veral twee soorte ondersoeke, naamlik ontwikkelings- en gehaltebeheerondersoeke.

Die ontwikkelingsondersoek is daarop gerig om die geskikste materiale vir bepaalde produkte te vind. Die gehaltebeheerondersoek word gedoen om te verseker dat 'n verwerkte produk sover moontlik voldoen aan die vereistes (spesifikasies) wat daarvoor gestel word. Materiaalondersoek word ingedeel in fisiese en tegniese ondersoeke. In fisiese ondersoek word materiale oor die algemeen bestudeer om onder meer fisiese groothede te bepaal soos die smeltpunt van 'n stof (in °C) of die treksterkte daarvan (in N/mm2). By tegniese ondersoeke word praktiese toetse gedoen om byvoorbeeld vas te stel hoe 'n stof sal reageer wanneer 'n krag daarop uitgeoefen word.


From Wikipedia, the free encyclopedia · View on Wikipedia

Developed by Nelliwinne