Randjeslaagte

Randjeslaagte was ’n driehoekige stuk staatsgrond tussen die plase Braamfontein (plaas) (wes), Doornfontein (oos) en Turffontein (suid) waarop die grootste deel van die Johannesburgse middestad en die hele Hillbrow nou geleë is. Dit stem ooreen met die gebied tussen die huidige Commissionerstraat en Hospitaalheuwel.

Op dié kaart van Johannesburg in 1890 is Randjeslaagte se grense sigbaar as die skuins streep wat wes van Hillbrow loop en noord van Marshalltown.

Die name van al die vername plase waarop Johannesburg aangelê is – Turffontein, Braamfontein, Doornfontein, Elandsfontein, Klipriviersberg, Langlaagte, Waterval en Klipfontein – leef voort in die naam van ’n voorstad binne die grense van die oorspronklike plaas. Net die uitvalgrond Randjeslaagte se naam het vir amptelike doeleindes ophou bestaan. Maar met die stad se vyftigste verjaardag in 1936 is besluit om ’n lewende gedenkteken vir sy pioniers te skep; daarom is die Randjeslaagte Memorial Homes Park (Randjespark) vir 150 mense opgerig. Dit bestaan uit huise, hoofsaaklik geborg deur die Rotariërs en gebou in ’n parkagtige omgewing vir bejaarde paartjies, veral oorspronklik onvermoënde baanbrekers wat die Goudstad sy kinderskoene sien ontgroei het.


From Wikipedia, the free encyclopedia · View on Wikipedia

Developed by Nelliwinne