Ranger 7

Ranger 7

Ranger 7 was die eerste ruimtetuig van Amerika wat daarin geslaag het om nabybeelde van die maan se oppervlakte te neem en terug te stuur aarde toe. Dit was ook die eerste algeheel-suksesvolle vlug van die Ranger-program. Dit is op 28 Julie 1964 gelanseer met die doel om teen die maan te bots en hoë-resolusiefoto's van die maan se oppervlakte, net voor impak, te neem en na die aarde te terug stuur.

Daar was ses vidikon televisiekameras aan boord: twee wyehoekkameras (kanaal F, kameras A en B) en vier nouhoekkameras (kanaal P) om die sendingdoelwitte te bereik. Die kameras was in twee aparte kettings gerangskik, elk kon onafhanklik werk met sy eie kragbron, tydreëlaar en senders om die grootste mate van betroubaarheid en waarskynlikheid te gee dat hoëkwaliteit televisiebeelde verkry sou word. Ranger 7 het meer as 4 300 foto's na die aarde teruggestuur gedurende die laaste 17 minute van sy vlug. Na sy vlug, wat 68,6 ure geduur het, het die tuig tussen Mare Nubium en Oceanus Procellarum teen die maan gebots. Die impakplek is later Mare Cognitum genoem. Die snelheid tydens impak was 2,6 km per sekonde. Die prestasie van Ranger 7 was beter as wat verwag is.[1] Daar was geen ander eksperimente aan boord nie.[2]

  1. Calvin J. Hamilton. "Ranger 7". Views of the Solar System.
  2. National Space Science Data Center, Ranger 7, NSSDC ID: 1964-041A

From Wikipedia, the free encyclopedia · View on Wikipedia

Developed by Nelliwinne