Koninklike Park in
Westminster en Camden
Londen
Verenigde Koninkryk
Opening
Oppervlakte
166 hektaar
Ligging
Regent's Park in die noorde van Westminster (boonste gedeelte van die kaart)
Bestuur
The Royal Parks
Webtuiste
The Royal Parks Geargiveer 10 Desember 2010 op Wayback Machine
Regent's Park (amptelik The Regent's Park) is een van die Koninklike Parke in die Britse hoofstad Londen. Die park met 'n oppervlakte van 166 hektaar is in die noordweste van die stad, noord en oos van die St. Marylebone-buurt, geleë en strek oor twee stadsdele, die City of Westminster en die Borough of Camden. Die kampus van 'n bekende tersiêre instelling, Regent's University London, en die Londense Dieretuin (London Zoo) val binne die parkgebied wat dwarsdeur die jaar oop staan vir die publiek.
Die terrein was oorspronklik in kerkbesit, maar is later deur koning Hendrik VIII gekonfiskeer om sy privaat jaggronde uit te brei.[1] Hierdie gebied net noord van Sentraal-Londen is in die vroeë 19de eeu deur die argitek en stadsbeplanner John Nash as 'n landskapstuin en ontspanningsgebied vir die koninklike familie en ander adellikes ontwikkel. Nash se oorspronklike ontwerp het voorsiening gemaak vir paleisagtige terrashuise wat die tuin sou omring. Die tuin, wat later ook in ander wêrelddele as 'n model vir stadsbeplanning gedien het,[2] staan sedert 1841 as een van die belangrikste openbare groen ruimtes in Sentraal-Londen oop vir die publiek.