Rudolf Nureyev | |
---|---|
Nureyev in 1973, deur Allan Warren. | |
Gebore | Rudolf Khametovich Nureyev 17 Maart 1938 Naby Irkoetsk, Sowjetunie |
Sterf | 6 Januarie 1993 (op 54) Levallois-Perret, Frankryk |
Nasionaliteit | Sowjet-Russies; Oostenryks |
Alma mater | Mariinski-balletskool |
Beroep | Danser Choreograaf (1958–1992) |
Lewensmaat | Erik Bruhn (1961–1986) |
Rudolf Khametovich Nureyev (Basjkiries en Tataars: Рудольф Хәмит улы Нуриев, Russies: Рудо́льф Хаме́тович Нуре́ев; Afrikaanse transkripsie: Roedolf Chametowitsj Noerejef; 17 Maart 1938 tot 6 Januarie 1993) was ’n Sowjet-balletdanser en -choreograaf. Hy was van 1983 tot 1989 direkteur van die Ballet de l'Opéra national de Paris en tot Oktober 1992 die hoofchoreograaf daarvan.
Hy het die Engelse bynaam "Lord of the Dance" gekry,[1][2] en is beskou as een van die balletwêreld se mees talentvolle dansers.[1][3][4][5]
Nureyev was ook ’n choreograaf van formaat. Hy het sy eie vertolkings van verskeie klassieke werke vervaardig,[6] onder meer Swanemeer, Giselle en La Bayadère.[7]
Die danser het sy loopbaan in die Mariinski-balletgeselskap in Sint Petersburg begin. Hy het in 1961 van die Sowjetunie na die Weste oorgeloop, ondanks pogings van die KGB om hom te keer.[8] Dit was die eerste keer dat ’n Sowjet-kunstenaar tydens die Koue Oorlog na die Weste oorgeloop het en dit het ’n internasionale opskudding veroorsaak. In 1982 het Nureyev Oostenrykse burgerskap aanvaar.
Hy het daarna in The Royal Ballet in Londen gedans en van 1983 tot 1989 was hy direkteur van die Paryse Operaballet.