'n Ruimtebotsing is 'n impak tussen hemelliggame wat 'n groot uitwerking het.[1] Botsings kom gereeld in planeetstelsels voor, hoewel asteroïede, komete en meteoroïede in die meeste gevalle betrokke is en 'n klein uitwerking het.
Wanneer groot voorwerpe planete soos die Aarde tref, kan daar aansienlike fisiese en biosferiese gevolge wees, want die voorwerp wat bots, trek gewoonlik teen verskeie kilometers per sekonde ('n minimum van 11,2 km/s vir 'n voorwerp wat teen die Aarde bots).[2] Atmosfere versag egter baie impakte. Slagkraters en -strukture is dominante landvorme op baie van die Sonnestelsel se soliede voorwerpe.
Dit lyk of botsings 'n groot rol in die evolusie van die Sonnestelsel gespeel het sedert dit gevorm het. Groot impakvoorvalle het die Aarde se geskiedenis aansienlik help vorm, vermoedelik ook die ontstaan van die Aarde-Maan-stelsel. Impakte kon ook 'n aansienlike rol gespeel het in die evolusiegeskiedenis van lewe. Botsings het dalk die boustene help bring vir lewe (volgens die panspermieteorie) en was moontlik die oorsprong van water op Aarde. Verder het hulle help lei tot verskeie uitsterwingsvoorvalle. Die prehistoriese Chicxulub-impak 66 miljoen jaar gelede het waarskynlik nie net die nievlieënde dinosourusse laat uitsterf nie,[3] maar ook die evolusie van soogdiere help versnel, wat gelei het tot hulle oorheersing en eindelik die ontstaan van die mens.[4]
Deur die aangetekende geskiedenis is honderde botsings met die Aarde (en ontploffende boliede) gerapporteer, waarvan sommige beserings of skade veroorsaak het.[5] Een van die bekendste aangetekende voorvalle in moderne tye was die Toengoeska-voorval, wat in 1908 in Siberië, Rusland, plaagevind het. Die Tsjeljabinsk-meteoorvoorval van 2013 is die enigste moderne sodanige gebeurtenis wat tot talle beserings gelei het. Sy meteoor is die grootste aangetekende voorwerp wat die atmosfeer binnegekom het sedert die Toengoeska-voorval.
Die komeet Shoemaker-Levy 9 het die eerste geleentheid gebied om te sien hoe 'n voorwerp in die Sonnestelsel getref word toe dit opbreek en in Julie 1994 teen Jupiter bots. 'n Ekstrasolêre impak is in 2013 waargeneem toe 'n groot planeetbotsing om die ster ID8 in die sterreswerm NGC 2547 deur Nasa se Spitzer-ruimteteleskoop gesien en deur grondwaarnemings bevestig is.[6]
In April 2018 het die Amerikaanse B612-stigting berig: "Dit is 100 persent seker dat ons deur 'n verwoestende asteroïed getref sal word, maar ons is nie 100 persent seker wanneer nie."[7] Die fisikus Stephen Hawking het ook in 2018 in sy laaste boek, Brief Answers to the Big Questions, gesê 'n asteroïedbotsing is die grootste bedreiging vir die Aarde.[8][9]
In Junie 2018 het die Amerikaanse National Science and Technology Council gewaarsku Amerika is onvoorbereid vir 'n asteroïedbotsing. Dit het die "National Near-Earth Object Preparedness Strategy Action Plan" daargestel om beter daarop voor te berei.[10] Volgens die getuienis van kenners in die Amerikaanse Kongres in 2013 sou Nasa minstens vyf jaar nodig hê vir 'n sending om 'n asteroïed weg te keer.[11] Op 26 September 2022 het die Double Asteroid Redirection Test die afkering van 'n asteroïed gedemonstreer. Dit was die eerste sodanige eksperiment deur die mens en is as hoogs suksesvol beskou. Die wentelperiode van die asteroïedmaan Dimorfos is met 32 minute verander. Die kriterium vir sukses was 73 sekondes.