South African College Schools (SACS) | |
![]() | |
Die SACS-hoërskoolwapen
| |
Leuse | Spectemur agendo (Latyns vir: "Laat ons geoordeel word aan ons dade") |
---|---|
Gestig | 1 Oktober 1829 |
Tipe | Laer- en hoërskool |
Hoof | Kenneth Ball (Hoërskool) François Nel (Laerskool) |
Stigter | Sir Galbraith Lowry Cole |
Personeel | 792 (Hoërskool) 796 (Laerskool) |
Grade | R-12 |
Adres | Nuwelandlaan (Hoërskool) Deanstraat (Laerskool) |
Stad | Nuweland, Kaapstad |
Provinsie | Wes-Kaap |
Land | Suid-Afrika |
Kleure | |
Koshuis(e) | Baxter (Hoërskool), Rosedale, Russel, Shaw (Hoërskool) Hofmeyr, Kipps, Lewis, van Holdt (Laerskool) |
Webblad | www.sacollege.org.za |
Die South African College Schools (SACS) is ’n laer- en hoërskool in Nuweland, Kaapstad, wat onderrig deur medium van Engels aan 1 588 seuns van gr. R tot gr. 12 bied.
Die hoërskool roem hom daarop dat hy die oudste sekondêre skool in Suid-Afrika is,[1] hoewel Muir-kollege op Uitenhage daarop aanspraak maak dat hy sewe jaar ouer is.[2] SACS is een van net vier skole wat Cecil John Rhodes in sy testament uitgesonder het as ontvanger van een van die 10 Rhodes-beurse wat jaarliks aan matrikulante in Suider-Afrika toegeken word. Die ander drie is die Diocesan College (Bishops) in die aanliggende Rondebosch, Paul Roos Gimnasium op Stellenbosch en St. Andrew-kollege in Grahamstad.[3] Die twee afsonderlike afdelings wat gesamentlik as SACS bekendstaan, is die South African College Junior School en die South African College High School. Hoewel die hoërskool se skoolgeld van R34 800 p.j. in 2016[4] en die laerskool s’n van R37 860[5] amper gelyk aan of selfs meer is as sommige privaatskole s’n,[6][7][8][9][10][11] is SACS al sedert Junie 1926 'n staatskool.[12]
Die vrouetydskrif Fairlady het SACS in 2015 in sy jaarlikse ondersoek na die 100 staatskole met die beste baccalaureus-slaagsyfer aangewys as een van die 25 beste staatshoërskole in die land. Nog vyf Engelsmedium-staatskole in Kaapstad se suidelike voorstede het dié lys gehaal: die Hoërskool Norman Henshilwood, Hoër Meisieskool Wynberg, Hoër Meisieskool Rustenburg, Hoër Seunskool Rondebosch en Hoërskool Westerford. Die enigste Afrikaansmediumskool in die Moederstad wat die lys kon haal, is die Hoërskool D.F. Malan in Bellville. Vyf Bolandse skole was ook onder die top-25.[13] SACS het tot 2015 die vierde meeste Springbokrugbyspelers van alle Suid-Afrikaanse skole opgelewer, naamlik 29, 19 minder as Paul Roos Gimnasium, die topskool, se 48.[14][15] In dieselfde jaar was SACS 12de op die landwye ranglys van rugbyskole.[16] In die matriek-eindeksamen van 2015 is die SACS-matrikulant Andrew Tucker as Suid-Afrika se toppresteerder aangewys ten spyte daarvan dat Guillain–Barré-sindroom by hom gediagnoseer is.[17]