Saad

Bruin vlassade

Saad is dié deel van 'n plant wat aangepas is om die voortplantingsfunksie te vervul. Sade is klein embrioniese plante omhul in 'n bedekking bekend as 'n saadhulsel, gewoonlik met gestoorde voedsel.

Die reserwe voedsel in die saadjie is nodig vir die suksesvolle ontkieming in die grond voordat die kiemplant verder kan ontwikkel (deur bv. opneem van eie voedingstowwe via die worteltjie). Dit is die produk van die rypgeworde ovule of gimnosperm en angiosperm plante wat na bevrugting ontstaan, saam met 'n mate van groei binne-in die moederplant.

Die moederplant vorm gewoonlik in die lente nuwe blomme, waarin die saadjies dan ontwikkel en ryp word in die nasomer. Die saadjies versprei daarna op verskillende maniere, bv. deur wind, water, insekte of voëls; hierdie verspreiding verseker die plant se voortbestaan vir generasie op generasie.

Die kenmerke van sade is ook 'n hulpmiddel by die uitkenning en klassifisering van plante, selfs meer belangrik as die kenmerke van die blare van plante. Elke saad besit sy eie unieke grootte, vorm en kleur.

Die vrugbeginsel ontwikkel later in 'n vrug en 'n vrug is dus 'n struktuur wat slegs by die bedeksadige plante (afdeling Anthophyta) aangetref word en waarin die saad of sade gehuisves word. Benewens die ontwikkelende embrio bevat die sade van die meeste plante 'n mindere of meerdere hoeveelheid reserwevoedsel waarvan die embrio leef. Vanweë hierdie reserwevoedsel word baie plantsade deur diere gevreet en 'n groot aantal plantspesies word vir hul sade deur die mens gekweek.


From Wikipedia, the free encyclopedia · View on Wikipedia

Developed by Nelliwinne